Wednesday 3 October 2012

“Afflictions are but the shadows of God's wings...” ~ George MacDonald


Haloes! :)

“Afflictions are but the shadows of God's wings...” ~ George MacDonald 

Jakobus 1:2-6 (Geloof in aksie Bybel)

“My liewe mede Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word.  Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees...   Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou...  As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef...  Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil...  As julle egter in ‘n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God.  Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie.  Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het.  Gaan vra, Hy sal gee...  Maar een ding moet julle dan nie doen nie.  Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie...  Verwag en weet vir seker dat Hy sal help...”

“God sal jou of van lyding bewaar, of jou die onfeilbare krag gee om dit te deurstaan...  Raak rustig en hou op om jou te bekommer...”  ~ Francis de Sales

“Swaarkry is die vrugbare grond waarin God elke Christen oorplant wat moet groei...”  ~ Anoniem

Die boek Jakobus, is seker een van my gunstelingboeke in die Bybel… Daar is soveel boodskappe en waarhede daarin, dat ek graag vandag een van dit met julle wil deel...  Hoe groei plante?  Daar is ‘n aantal faktore wat daartoe bydra...  Die tipe grond waarin dit geplant is, die weersomstandighede, of dit genoeg water en sonlig kry... Vetplante bv het weer nie water nodig om te groei nie...  Hulle het droë omstandighede nodig om te oorleef...  Dis so met elke Christen se lewe ook...  Elkeen van ons is uniek, en elkeen van ons het iets anders nodig om ‘n vol lewe te hê en daagliks te volhard...  Daar is egter een iets waarsonder nie een van ons kan lewe nie, en dit is God...

Sonder God is ons tot niks in staat nie...  Ons sal nie hoop hê vir die nuwe dag nie, en ons sal nie krag hê om ons dagtake aan te pak nie...  Moeilikhede wat reeds soos berge voor ons lê, sal sonder God se liefde, en ondersteuning, en daar wees soos Mount Everest lyk... Die aanhaling hierbo se vir my dit so mooi...  Swaarkry en moeilike tye, is soos wanneer God “bemesting” en noodsaaklike “water” (seën) aan Sy kinders se lewens verskaf...  Waar jy jou ookal vanoggend bevind – of jy in die diepste put van swaarkry of hartseer is, of miskien lê daar ‘n dag voor jou wat gevul is met onsekerhede, of miskien het jy God se goedheid in oorvloed ervaar die afgelope tyd – waarookal jy jouself bevind – Jesus ken jou...  En Jesus weet wat jy nodig het...  En HY sal by jou wees, en saam met jou stap, deur elke onsekerheid en deur elke beproewing...  Hy SELF sal jou dra, en jou die ondersteuning bied wat jy nodig het...

Soos hierbo in Jakobus geskryf is – gaan vra, en Hy sal gee...  Moenie dink dat jy nie waardig is om te kan vra vir God se hulp nie...  Hy het gesterwe vir ons, nie omdat ons dit verdien nie, maar vanweë Sy groot liefde, en genade vir ons...  Al voel dit vir jou of God jou al so baie genadig was, en soveel keer barmhartigheid betoon het, en dat jy nie dit werklik verdien nie – wil ek jou sê dat jy verkeerd is...  God wil aan jou tot in alle ewigheid barmhartigheid, liefde en seën betoon...  Soos Hy vir Jabes geseën het – is soos wat Hy vir jou wil seën...  Hy wil jou grondgebied vermeerder, en Hy hou Sy hand reeds oor jou, waar jy ookal mag gaan...  En wanneer ons getrou volhard in die moeilike tye, wanneer ons steeds aanhou bid en aanhou vertrou – SAL God ons genadig wees...  En SAL Hy in elke behoefte wat jy het voorsien...  Hy sal Sy blessings oor jou uitstort en jou met Sy liefde omvou...  Jy moet net bid en glo en vertrou...  HY het jou oneindig lief, en jy stap nie alleen hierdie week tegemoet nie...  Vat jou Pappa se hand – Hy hou dit uitgestrek na jou...

Blessings!

Anelli**

No comments: