Wednesday 31 August 2011

New beginnings...

Haloes! :)

New beginnings...


Hooglied 2:11-12

“Kyk, die reëntyd is verby, die reën is oor, dis weg. Daar is bloeisels in die veld, dit het tyd geword om te sing; die tortelduif se stem klink oor ons land…”

Psalm 37:5

“Laat jou lewe aan die Here oor, en vertrou op Hom; Hy sal sorg…”

“Jy vertrou op die son, die maan en die getye… Jy glo dat God ‘n plan het met dag en nag, met die wisselende seisoene van die jaar. Sal God dan versuim om ‘n plan vir jou lewe te hê? ~ Carol Anne Morrow

“Moet nooit die vertroostende feit uit die oog verloor dat die lente altyd op die winter volg nie…” ~ Solly Ozrovech

Die lente het aangebreek!! Gelukkige lentedag vir jou J Die seisoene soos God dit geskape het, is vir my ‘n pragtige uitbeelding van hoe “die lewe” is… Die somer stel goeie tye, oftelwel tye van seën voor… Tye waar die dae pragtig is, en die aande nog mooier… Tye wat jy in die natuur kan deurbring en God se handewerke aanskou… Dan kry ons tye van groei… Tye wat ons verander, wat dalk die “lote” aan ons lewensbome bietjie snoei… Wat die blare van ons bome verkleur… Dis vir my HERFS. Soos wanneer die bome hulle blare verloor, en partykeer heeltemal gestroop word van die blare wat hulle het. Ons ervaar ook sulke tye, wanneer ons lewensmat partykeer heeltemal onder ons voete uitgeruk word. Wanneer ons alles verloor (op welke gebied ook al – materieël; fisies; gesondheid)…

Dan breek die winter aan… Tye van reën, tye wat jy die nagevolge voel van dit wat jy gedurende die “herfsperiode” van jou lewe verloor het… Tye wat mens dalk “depro” kan voel omdat die grou weer, jou sommer so laat voel… En dan, breek die lente aan… Na die stropingsproses, en al die reën wat in jou lewe geval het, breek die tyd van “blom dra” weer aan… Die lente is vir my ‘n versekering dat die reën (moeilike tye - Winter), SAL nie vir altyd aanhou nie, want God het met die sondevloed van Noag se ark, BELOWE, dat Hy nooit weer die mens op daardie manier sal straf nie. Die reënboog, is sy belofte van dit – en elke keer wanneer ons dit sien, kan dit ons herinner van die belofte… Tye van totale seën van God, tye wat jy Sy seën ervaar deur net na die natuur te kyk… Tye wat die voëls terugkeer, en wat die blomme volop is. Tyd wanneer die liefde ook blom :)

Of jou lewe se patroon saam met die seisoene beweeg, en of jy dalk jouself vandag in die herfs / winter periode bevind – WEET dat God elke tree saam met jou is. Hy sal saam met jou deur elke seisoen van jou lewe stap, en Hy sal sorg dat jy ULTIMATELY WEER pragtige blomme sal dra… Sy seën sal jou lewe vul, dat jy nie die einde van jou blessings sal ken nie! Spreek dit uit oor jou lewe, glo dit, en BID daarvoor!

Geniet jou lentedag :)  Pluk sommer ‘n blommetjie en gee dit vir iemand om hulle te seën – net omdat jy kan :)

Blessings!


Tuesday 30 August 2011

“Trane kan ons help om dinge anders te sien. Hulle spoel die stof uit ons oë en gee ons vars insig en visie…” ~ Trevor Hudson

haloes! :)

“Trane kan ons help om dinge anders te sien. Hulle spoel die stof uit ons oë en gee ons vars insig en visie…” ~ Trevor Hudson

Matteus 5:4

“Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word…”

Jeremia 31:13

“Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans. Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie…”

“Die siel sou nie ‘n reënboog kon hê as die oë nie trane gehad het nie…” ~ John Vance Cheyney

“In elke lewe moet daar bietjie reën val. Hoe anders kan groei plaasvind?” ~ Henry Wadsworth Longfellow

Ons kom die wêreld binne deur te huil… Baie ouers huil wanneer hul, hul baba vir die eerste keer kan vashou… Wanneer mense sterf, huil ons weer omdat die persoon wat van ons geneem is, ‘n leemte in ons lewe gelaat het. Huil is dus ‘n emosie wat BAIE verskillende gevoelens kan weerspieël… Ek dink ons as vrouens is gelukkiger as die mans, want wanneer ons huil word dit as “hormone” bestempel, maar wanneer mans huil bestempel mense dit as baie maklik as swakheid…

Ek wil met die menslike stigma verskil vandag… Hierdie aanhaling hierbo van Trevor Hudson, is vir my ‘n RAAKVAT aanhaling van wat trane is. Wanneer jy huil, raak jy ontslae van stress, hartseer, benoudheid, angs en bekommernis… Dit is werklik of die trane die spinnerakke van vrees wat jy bewustelik of onbewustelik oprig, kom wegwas… Wanneer jy uitgehuil is, en baie keer ‘n goeie rus of slapie gehad het, sien mens weer dinge in perspektief. Mens kan so opgewen en vasgevang word in jou situasie, dat jy somtyds net ‘n uitlaatklep vir daardie spanning nodig het. En mans moet kan huil! Daar is GEEN skande, of swakheid daarin vir ‘n man wat huil nie. Ek dink dit wys karakter. Selfs Jesus het gehuil – toe Lasarus oorlede is, omdat Hy ‘n dierbare vriend verloor het…

Jesus sê in Matteus 5:4 – “Geseënd is hulle wat treur, want hulle sal vertroos word…” Watter angs, bekommernis, seer of probleme in jou lewe is – Jesus is met jou. Hy sal self jou trane afdroog… Jy hoef nie altyd te probeer sterk wees vir almal rondom jou nie – dis waarvoor Jesus daar is. Daar is so baie mense wat so hard op hulle self is, wat vir almal sorg en almal probeer gelukkig hou, en dan self daaronder ly. Jesus wil na JOU kyk… Hy sal SELF Sy behoedende en bewarende hand oor almal hou. Hy sal sorg – jy moet Hom net vertrou… Wanneer jy weer so bekommerd wil raak, raak net stil, en stel God in beheer… Hy SAL sorg…

Blessings!

Monday 29 August 2011

“You have brains in your head and feet in your shoes, you can steer yourself, anywhere you choose…” ~ From the movie: Chalet Girl

Haloes! :)
Fillipense 4:13
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee…”
Psalm 61:6
“U, o God, hoor my geloftes, U vervul die wens van hulle wat U Naam eer…”
“Moet nooit ophou om te droom nie.  Sonder drome kan jy voortgaan om te bestaan, maar jy sal ophou lewe…” ~ Mark Twain
“As iemand met selfvertroue vorentoe beweeg in die rigting van sy droom en die lewe probeer leef waarvan hy gedroom het, sal hy ongewone sukses smaak…” ~ Henry David Thoreau
Ons lewens is die somtotaal van ons keuses…  Ek glo nie dat dinge net na ‘n mens toe aangestap kom nie.  Dit hang af van jou ingesteldheid, jou wil om te veg, en jou vermoë om te midde van alles op God te vertrou…  Elke persoon op hierdie aardbol wat hul drome geleef het, was op ‘n stadium skepties oor of dit sal kan realiseer…  Hulle was dalk ook skepties, oor of hulle dalk nie te hoog mik nie…  Dink aan Thomas Edison wat die ligbulb ontwerp het, of Alexander Graham Bell wat die telefoon ontwerp het…  As dit nie vir hulle was, wat ‘n droom gehad het, en genoeg geglo het in hulself om te “waag” vir die droom nie, sou ons dalk nou nog in die donker gesit het, sonder enige kommunikasie lyne J

Darem seker nie so erg nie, maar ek hoop julle verstaan wat ek probeer verduidelik.  Almal van ons, sal op een of ander stadium iets in ons lewens moet aanpak, wat ‘n uitdaging is…  Sonder dat ons dit agterkom, het ELKE dag klein uitdagings in wat ons partykeer aanpak sonder om aan dit te dink.  Of dit nou is om nuwe mense te ontmoet, of om iets te doen wat HEELTEMAL buite jou comfortzone is…  As ons nie gaan probeer nie, gaan ons nooit weet of ons tot dit in staat is / was nie.  Ek glo ook dat ons nie moet sit, en wag vir die dinge om na ons kant toe te kom nie.  Wanneer mens werklik iets WIL doen, SAL jy ‘n manier kry om dit te laat gebeur.  En wanneer mens vir God KEN in ALLES, SAL Hy ook die dinge laat uitwerk soos dit moet!  Ons kan ENIGE iets doen, deur Hom wat ons krag gee…  Ek dink ons laat partykeer net toe, dat mense negatiewe dinge oor ons lewens uitspreek, en dan glo ons dit later, dat dit ons de-motiveer om ons drome na te jaag…  Moenie MENSE toelaat om negatiewe dinge oor jou lewe uit te spreek nie.  Juis OMDAT jy ‘n Koningskind is, KAN en SAL God sorg, dat die onmoontlike, moontlik word in jou lewe…  Solank jy Hom vertrou, en jou hoop en geloof in Hom plaas, eerder as in mense…

Blessings!





Friday 26 August 2011

every no, brings you closer to a yes…


Haloes! :)

Fillipense 3:13-14


“Ek maak my los van wat agter my is en strek my uit na wat voor is… Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het…”


Romeine 5:3-4


“Ons weet swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof…”

"Die ware toets van volharding kom wanneer die nag op sy donkerste is… Eers wanneer die antwoorde vervaag en net die probleem oorbly, wanneer die morele ondersteuning van ander verdwyn en ons eensaam en alleen staan, word die krag van ons volharding gemeet…” ~ John C Maxwell

“Die wedloop van geloof moet met volharding gehardloop word… Jy moet ontslae raak van al die dinge wat jou kan keer, jou oë mag nie ‘n oomblik van Jesus afwyk nie. Net dan kan jy seker wees dat die oorwinning en die prys joune sal wees…” ~ Nina Smit

“When the going get’s tough…” Ek dink dis iets waarmee elkeen van ons al gekonfronteer is… Ek het al met baie mense gesels en na ek ‘n hele paar stories in oorweging geneem het, het ek tot dieselfde gevolgtrekking gekom… As iets lewensveranderend met jou gebeur – bv, jy verloor jou werk wat lei tot finansiële moeilikheid; huwelike of verhoudings wat verbrokkel wat lei tot vriende wat verloor word; siekte wat jou lewe binnekom, soos ‘n dief in die nag… Aanvanklik is mense “daar” vir jou, hulle stel belang, help, maar soos die tyd verbygaan, gaan mense maar net aan met hulle lewens…

Dis sulke tye, soos John C Maxwell ook hierbo skryf, wat die ware toets van volharding is… Wanneer ons moeilike tye ervaar, en wanneer ons ultimately net op God kan vertrou vir bystand, vir krag, vir sy liefde en ontferming… Hy is al iemand wat ALTYD dieselfde is, en wat altyd daar is… Is jy dalk in een van hierdie moeilike situasies? Het jy dalk soveel druk dat jy nie meer weet watter kant toe nie? Bly die deure toe, en die antwoorde nee, en is jy al raadop om ‘n uitweg te vind?? Jesus is met jou… Hy is voor jou om die pad vir jou gelyk te maak, Hy is agter jou om jou op te help as jy dalk mag val, Hy is onder jou om jou te dra wanneer die pad te lank raak, en bo jou om Sy hand van bewaring altyd oor jou te hou… Mense sal jou teleurstel… Maar op God kan jy ALTYD reken… Weer en weer sal Hy daar wees…

Onthou dat groeiproses ‘n deurlopende proses is. Daar is egter tye wat die boom vrugte / blomme dra – tye van seën, wat die wiel draai… Ons moet net volhard, en vir God bly vertrou tot daardie oomblikke in ons lewens aanbreek… En hoe ons kan volhard, is om ons hand in Jesus s’n te plaas, en te bid, dat Hy aan ons elke dag die krag sal skenk om te volhard… Jou Pappa het jou baie lief!! Onthou dit vandag!! Vir die van julle wat raadop voel en net bemoediging nodig het vandag, hier is ‘n vers spesiaal vir julle: Mark 9:23: “What do you mean if I can? Jesus asked. Anything is possible if a person believes…”

Blessings!




Thursday 25 August 2011

“God does not call the equip, He equips the called…”

Haloes! :)

Galasiërs 1:15

“God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in Sy genade geroep…”

Romeine 12:2

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe… Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is…”

“God moet soms diep ploeg om die beste oes uit ons lewensakker te verky… Wees gehoorsaam en soek sy wil in jou vreugde en beproewing…” ~ Toi

“God het aan jou gedink nog lank voordat jy ooit aan Hom gedink het. Sy doel vir jou lewe dateer al van voor jy verwek is… Hy het dit beplan nog voor jy bestaan het, en sonder jou insette!” ~ Rick Warren

God se wil vir jou lewe… Is dit vir jou ‘n duidelike prentjie? Of is dit iets wat jy ontdek soos die tyd aangaan? Ek glo dat met tydsverloop, kom antwoorde… Oom Angus Buchan is vir my ‘n absolute inspirasie!! Dis ‘n storie van hoop, en hy is vir my ‘n absolute beskrywing van aanhaling hierbo van Toi. Voordat hy vir Jesus geken het, het hy op homself staatgemaak om dinge gedoen te kry, maar nadat Hy vir Jesus as Sy saligmaker aanvaar het, het hy sy plaas en die boerdery oorgegee aan God en SY wil. Hy was ook gehoorsaam aan God se boodskap, nl dat hy die woord moet verkondig… God het ‘n gewone mens geneem, en aan hom die woorde gegee wat hy nodig het, om groot werk in Sy naam te doen…

Dink jy dat jy te gewoon is om ‘n verskil in die Koninkryk te maak? NES jy is, deur hoe jy mense hanteer, en met mense gesels, hoe jy tussen jou vriende is, en ook hoe jy optree as niemand kyk nie – dit is bediening opsigself! Jy hoef nie te preek om ‘n verskil te maak nie! Ek wil iets met jou deel wat my vandag diep aangeraak het toe ek baadjies gaan ingee het by die droogskoonmaker. Toe ek daar instap was daar net een vrou wat binne in die winkel was. Sy het my gegroet met haar mooiste glimlag, en ek kon hoor dat haar radio op ‘n gospel stasie ingestel was. Daar het ‘n liedjie gespeel in die agtergrond – “God is good, all the time…” Sy het heerlik saamgesing, terwyl sy my geld geneem het, en ‘n kwitansie uitgeskryf het. Toe die liedjie klaarmaak, en die laaste note so wegsterf, toe sê sy – “Not sometimes, He is good ALL the time!” Sy het my net weer herinner van hoe lief God ons het, en dat Hy elke oomblik van die dag daar is vir ons, lief is vir ons, en reg staan om ons te help, in watter manier ons Hom ookal mag nodig hê. Ons moet dit net onthou! Daardie vrou, is besig met ‘n bediening in die droogskoonmaker! Sonder dat sy vir my probeer preek het, het sy ‘n ligpunt in my dag gesit, en het sy my herinner dat ons NOOIT alleen is nie, en dat geen pad te lank is om te stap nie – want God sorg. Onthou dit vandag! En onthou, dat ons as gewone mense, God se koninkryk hier op aarde moet laat kom. Wees net bereid – God sal self sorg vir die res!

Blessings!

Tuesday 23 August 2011

"Daar is 2 dinge wat my pa my geleer het... 1. Ons moet kan deel met ander wat ons ontvang het, en 2. Ons moet mekaar kan vertrou..." ~ Pietje Bell

Haloes! J
Jesaja 33:6
“Hy is die een op wie jy jou lewe lank kan vertrou…”

Prediker 7:1
“Wysheid saam met besittings is goed; dis ‘n voordeel vir elkeen wat leef…”

“Leef of jy niks het nie, en tog alles besit…”  ~ Die Heilige Theresia

“Dit is nie wat om my is nie, maar wat binne-in my is wat tel.  Dit is nie wat ek besit nie, maar wat ek is wat my gelukkig of ongelukkig maak…”  ~ Johann Wolfgang von Goethe

Ek het ‘n Hollandse fliek gekyk nou die dag, genaamd Pietje Bell.  Dit gaan oor ‘n seuntjie wat ‘n verskriklike goeie hart het, maar altyd op een of ander manier in die moeilikheid beland met kattekwaad wat hy aanvang J  Daar was een stuk in die fliek wat my nogals aangeraak het.  Pietje het ‘n seuntjie gesien wat geen skoene aangehad het nie.  Hy vra die seuntjie toe – “ Het jy geen skoene?”  Die seuntjie antwoord toe dat hy geen skoene besit nie…  Pietje het op die oomblik sy skoene uitgetrek en dit aan die seuntjie gegee…

Dit is ONVOORWAARDELIKE liefde…  Om jou iets wat vir jou baie beteken, met iemand anders te deel of om ander se swaarkry raak te sien, en deur ‘n klein gebaar, net aan die persoon te wys dat jy vir hom of haar daar is…  Jy kan vir iemand iets beteken op BAIE verskillende maniere – dit hoef nie noodwendig geld te wees wat jy bydra nie.  Jy kan bid; jy kan luister as die persoon nodig het om te gesels; jy kan vir iemand ‘n koppie koffie maak, of ‘n geleentheid gee indien die persoon nie vervoer het nie…  In Suid-Afrika, is swaarkry egter aan die orde van die dag.  Ons word daagliks daaraan blootgestel, en mens weet nie altyd vir wie moet jy dan help nie?  Daar is so baie mense wat hulp nodig het.  In ons land kan ons egter net op die Heilige Gees se leiding vertrou vir leiding in die verband…  Ons moet die verskil wees wat ons in die wêreld wil sien…   God seën ons weer wanneer ons iemand anders seën…  Dalk nie altyd soos jy dit wil hê nie, maar DEFNITIEF altyd soos jy dit nodig het…

Wees vandag ‘n seën vir iemand!
   
Blessings!

Monday 22 August 2011

"As ek terugkyk, dank ek God dat al my gebede nie beantwoord is nie..." ~ Jean Ingelow

Haloes! J
Matteus 6:7
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed woorde gebruik nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra…”

Numeri 6:26
“Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”

Gebed is nooit ‘n poging om God met ons versoeke te oorlaai nie; dit beteken dat ons in ‘n persoonlike gesprek tree met ‘n Vader wat ons liefhet.  Daarom is die kommunikasie met Hom baie belangriker as die antwoorde wat Hy ons gee op ons gebede…  Die grootste seën wat ons uit gebed kry, lê nie daarin dat ons alles kry wat ons vra nie, maar dat ons so omgang met die Vader verkry…”  ~ Helmut Thielicke

“Bring jou versoek na God toe, en sê dan:  Laat u wil geskied.”  Die beste ding wat ek ooit in God se skool geleer het, was om die Here namens my te laat kies…”  ~ Dwight L Moody

Dis moeilik wanneer mens ongelooflik graag iets in jou lewe wil hê of as jy bid vir deurbrake in jou lewe, wat net nie wil kom nie…  Dit kan mens laat voel dat God nie daar is nie, of net glad nie hoor wat jy sê nie…  Dink gou aan toe jy klein was – het jou ouers altyd ja gesê vir alles wat jy wou hê?  Of, indien jy al ‘n ouer is – sê jy altyd ja vir ALLES wat jou kinders van jou vra?  Die antwoord is natuurlik nee!  Hoekom??  Omdat jy as ouer weet WAT tot voordeel vir jou kinders is of sal wees!  Jou antwoord sal dus SO wees dat hulle seën uit die situasie kan kry…

Ek weet dat mens baie maklik raadop kan word met omstandighede en situasies, want partykeer voel mens – God weet dan hoe graag ek hierdie in my lewe wil hê of hoe broodnodig ek ‘n antwoord soek…  En dit bly net stil aan Sy kant!  Tog, wanneer mens terugkyk – kan jy sien hoekom sekere goed moes gebeur, en hoekom sekere ander goed NIE moes gebeur het in jou lewe nie.  God se wil, sal ‘n wil van ultimate seën in jou lewe wees…  Die dinge wat Hy nie toelaat nie, wat jy van Hom bid nie, sal SLEGS omrede wees, dat Hy vir jou iets VEEL beters bestem.  Wanneer een deur toemaak, maak God gewoonlik ‘n BAIE beter deur oop…  Ons moet net geduldig wag…  ‘n Aanhaling wat ek baie van hou sê die volgende:  “Wag daar by die belofte totdat God jou daar ontmoet…  Hy kom altyd terug na sy beloftes…”  ~ Anoniem.  Vertrou God se wil vir jou lewe…  Wanneer God namens on skies, kan ons nie anders as om geseën te word nie!

Blessings!

Sunday 21 August 2011

"Om vir ander in gebed in te tree, is liefde op sy knieë..." ~ Harry Emerson Fosdick

Haloes! :)

Fillipense 1:3-4

"Ek dank God elke keer as ek aan julle dink...  In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal..."

Matteus 18:19

"As twee van julle op aarde oor enige iets saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die Hemel is, hulle dit laat kry, want daar waar twee of drie in my Naam saam is , daar is Ek by hulle..."

"Daar is niks wat ons so lief vir iemand maak as wanneer ons vir hom bid nie..." ~ William Law

"Liefde en gebed gaan natuurlik saam...  Bid vir jou geliefdes dat God hulle vandag sal seën...  Bid dat wanneer geleenthede opduik om jou liefde aan hulle te betoon, jy hulle sal raaksien en vinnig daarop sal reageer..."   ~ Stormie Omartian

‘n Eienskap wat baie van ons besit is TROTS…  Never except defeat, never show weakness…  Ek onthou toe ek in Standerd 3 (graad 5) was, het ons jaargroep se meisies deur so ‘n fase gegaan waar baklei aan die orde van die dag was.  Vriendinne was sommer net bakleierig, katterig of erg jaloers op mekaar – 99% van die tyd sonder rede.  Ek en twee vriendinne het toe een dag gekuier, dit was net voor die skool begin het vir ons Standerd 4 jaar na die Desember vakansie, en ons besluit toe dat ons ‘n gebedsgroep sou begin.  Ons het ywerig begin briefies maak vir enige iemand wat sou wou join – die “Immanuel gebedsbende” het een tweede pouse in ‘n week bymekaargekom om te bid.  Te bid vir mekaar, vir die skool, ons geliefdes – enige iets…  Ek dink dit was een van my beste jare op skool.  Ons het as vriendinne mekaar beter begin verstaan, en ons het impak gemaak terwyl ons saam gebid het…  Die bakleiery was basies iets van die verlede en ons vriendskappe was sterker.

Wat ek met hierdie getuienis uit my lewe vir jou wil illustreer, is dat wanneer God in beheer is, val die dinge in plek.  Wanneer daar 2 of meer saam is in God se Naam, is Hy daar, antwoord Hy gebede, en verander Hy lewens. Hy maak aartsvyande se harte sag wanneer daar vir mekaar gebid word, en Hy vul dit met liefde…  Partykeer wanneer ons, onsself in doodloopstrate bevind, of tye van storms ons oorweldig en as dinge net ONMOONTLIK gaan, raak dit so dat ons partykeer nie die woorde kan vind om te bid nie.  Soos ek laas week geskryf het, tree die Heilige Gees vir ons in hierdie tye in.  Ons gebedsvriende kan egter ook in hierdie tye vir ons opdra.  Ons moet net die “boldness” hê om mekaar genoeg te vertrou om saam te kan bid. 

‘n Gebedspartner, is iemand wat jy ten volle kan vertrou.  Soos dokter / pasiënt konfidensialiteit, so moet dit tussen twee gebedspartners wees.  As jy nog nie iemand in jou lewe het wat saam met jou kan bid nie – BID tot God dat Hy daardie iemand oor jou pad sal stuur – want as jy vra, SAL God voorsien.  Gebed saam met mekaar is iets wat huwelike kan herstel, verhoudings kan laat groei, vriendskappe kan verinnig…  Daar is GEEN beperking op dit wat God deur ons gebede kan doen nie…  Vir Hom is ALLES moontlik!  Al het jy moed opgegee met mense in jou lewe – bid vir hulle.  Al voel jy dalk magteloos en dat jy nie vir ‘n vriend of ‘n vriendin daar kan wees of iets kan doen met wat hulle op die oomblik moet deurmaak nie, bid net vir hulle…  Stel God in beheer deur jou gebede, en moenie langer self aan die laste dra nie…  God kan enige situasie omswaai…

Mag jy ‘n PRAGTIGE daggie hê!

blessings!

Wednesday 17 August 2011

"'n Enkele dankbare gedagte wat aan God gerig word, is die mees perfekte gebed..." ~ Robert Freeman

Haloes! :)

Romeine 8:26-27, Die Boodskap"Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie...  Maar in sulke tye bid die gees self vir ons...  Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal...  Hy gaan sug en kla namens ons daar by God..."

Jakobus 5:16"Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking..." 

"Here, ek weet nie wat ek van U moet vra nie...  U alleen weet wat ek nodig het...  U het my liewer as wat ek myself kan hê...  O Vader, gee aan U kind wat hy self nie weet hoe hy dit van U moet vra nie...  Ek bring maar net my hart na U en maak dit oop voor U...  Amen" ~ Francois Fénelon

 
"Van my beste gebede is die kere wat ek nie woorde het nie...   Ek hou op met praat, sluit my oë en dink oor wat ek gelees het, of oor wat ek gebid het, en ek luister..." ~ Charles Swindoll'

Partykeer, wanneer mens deur moeilike tye gaan, is dit moeilik om die regte woorde te kry om te bid...  Gaan dinge dalk op die oomblik so in jou lewe?  Dat jy nie meer weet of jy kom of gaan nie...  Net soos jy dink die een probleem is opgelos, sak die volgende ene al op jou toe...  Bid is nie om 'n rympie op te sê nie...  Dit is 'n GESPREK en 'n KONNEKSIE met God...  Ek weet nie of daar dalk iemand in jou lewe is, met wie woorde partykeer nie nodig is nie?  As julle byvoorbeeld in 'n groep is, en jy kyk net vir die persoon as 'n spesifieke iets gebeur, dan kan jy sommer SIEN die persoon weet wat jy dink :)

Dit is so met God ook...  Hy weet wat ons dink, nog voordat ons dit aan Hom sê...  Dis hoekom Robert Freeman se aanhaling so treffend is...  As jy dink - sjoe, ek voel so gebless deur dit wat God in my lewe gedoen het, glo ek dis opsigself 'n dankie wat jy opstuur hemel toe...  God weet ook as jou gemoed troebel voel, en jy dalk net nie woorde kan vind om te verwoord hoe jy voel nie...  Hy ken jou deur en deur!  Dis hoekom gebed nie noodwendig gebonde hoef te wees tot 'n spesifieke tyd van die dag nie...  Soos dinge deur die dag gebeur, kan jy in 'n aaneenlopende gesprek met God wees...  En as jy dalk net nie die woorde het nie, sit vir jou gospel musiek aan of lees God se woord, en raak net stil...  Jy kan 'n gospel lied se woorde of 'n teksvers, as 'n gebed opdra aan God...  

Soos Romeine hierbo bevestig - die Heilige Gees pleit self vir jou, en maak voorspraak vir jou in die tye wat jy nie die woorde het nie...  God weet wat jy nodig het, en Hy wil dit in oormaat voorsien...  Hy wil vir Sy kinders NET die beste hê...  Al lyk dit vir jou na ontstuimige waters waarin jy verkeer - Hy sal die storms kom stil maak, en indien dit nie gebeur nie, sal Hy sorg dat jou lewensboot VEILIG deur die storm, aan die anderkant uitkom...  Jy moet net aan Hom vashou...  Partykeer verloor mens so perspektief, en lê die antwoord eintlik voor jou - jy vra dalk net die verkeerde vrae...  Jy is SUPER spesiaal vir God - onthou dit vandag wanneer die ontstuimige waters kom!

blessings!
anel**