Thursday 15 September 2011

“Mense sal vergeet wat jy gesê het; mense sal vergeet wat jy gedoen het, maar menses al nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie…” ~ Anoniem

Haloes! :)

“Mense sal vergeet wat jy gesê het; mense sal vergeet wat jy gedoen het, maar mense sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie…” ~ Anoniem


Galasiërs 6:2

“Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus…”

Romeine 13:8

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit…”

“Jou voorbeeld is van die uiterste belang wanneer jy invloed op ander uitoefen…” ~ Albert Schweitzer

“Laat God toe om jou deur ander mense lief te hê, en laat God ander deur jou liefhê…” ~ DM Street

LIEFDE… Dis so ‘n klein woordjie, maar tog is dit iets wat die wêreld laat draai… Dink gou vir ‘n oomblik hieraan… Ek is seker daarvan dat jou lewe nie bestaan daaruit om te werk, of om huis te hou, wasgoed te was of die tientalle dinge wat mens kry om jouself mee besig te hou nie… NEE… Die lewe gaan oor menseverhoudings, goeie vriendskappe, om daardie deksel vir die pot te vind, of die regte pot vir ‘n deksel te wees… Ek dink van die mense wat die grootste impak in my lewe gehad het, was mense wat my opgebou het, en my laat voel het dat ek vir hulle iets beteken… Mense wat my waardeer en aanvaar vir die mens wat ek is, en wat my nie “judge” nie… Dis ook vir my die definisie van wat liefde is…

Soos 1 Korintiërs 13:7 sê: “Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles…” Deur iemand te aanvaar vir wie hulle is, is om iemand lief te hê… Daar is niks wat so opbouend is soos iemand wat jou liefhet / liefdevolle vriendskap nie, maar ek dink ook daar is min dinge wat so seer kan maak soos liefde… Mens kry baie keer so ongelooflik seer deur ondeurdenkte woorde van mense wat vir hulle baie beteken… Wanneer mens seerkry in verhoudings, is dit partykeer BAIE moeilik om dan weer iemand anders te vertrou / om jou hart weer oop te maak vir iemand anders… Tog – dis hoe God se liefde vir ons sigbaar word in ons lewens – deur die mense wat Hy in ons lewe geplaas het… Dis ook hoe ONS God se liefde kan uitstraal, deur daar te wees vir die mense rondom ons, en die mense rondom ons lief te hê… Ek probeer myself altyd afvra – die woorde wat ek aan iemand anders sê – sal dit iets wees wat ek wil hê ander vir my moet sê? As dit nie is nie, bly ek stil… Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê… en onthou – mense sal eendag onthou HOE jy hulle laat voel het – nie noodwendig wat jy gesê het nie… Maak inpak, daar waar jy jouself bevind… Nie een van ons is te gering of te klein, of te onbelangrik, om ‘n verskil te kan maak nie…

Blessings!







No comments: