Wednesday 22 August 2012

“Bekommernis is om ‘n las te dra wat God ons nooit opgelê het nie...”~ Anoniem

Haloes! :)
“Bekommernis is om ‘n las te dra wat God ons nooit opgelê het nie...” ~ Anoniem
2 Korintiërs 4:17
“Ons swaarkry is op die oomblik gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan...”
Jesaja 33:2
“Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U... Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood...”
“Ek dink nie aan die swaarkry nie, maar aan al die skoonheid wat nog oor is...” ~ Anne Frank
“Sê vir God dankie... Hy meet nie genade in teelepels af nie...” ~ Amy Carmichael
Hoe baie van ons, dra so swaar aan laste wat nie van God af kom nie? Dinge wat verby is, wat ons nie kan verwerk nie... Dinge wat nog kom, wat ons vul met bekommernis... Ons word partykeer so beroof van “die hede” omdat ons vasgevang is in dit wat verby is, of dit wat kom... Ons lewe gaan baie keer, “ongeleef” by ons verby, omdat ons in ‘n patroon van bekommernis vasgevang is. Sodra die een ding verby is wat ons so met onrus gevul het, kry ons iets nuuts in sy plek, om verder oor bekommerd te wees...

My ma vertel my die naweek weer van ‘n kursus wat sy gedoen het, jare gelede, waar die dominee Killian hulle uitgedaag het om op ‘n stuk papier “groot gebeurtenisse” wat in hul lewens plaasgevind het, te gaan neerskryf. Dis byvoorbeeld dinge waarmee jy gesukkel het, hartseer dinge, siekte dinge enige iets wat groot invloed of donker tye in jou lewe weerspieël het... Sy sê toe, dat wanneer jy die dinge begin neerskryf, kan mens sien hoe die dinge in ‘n patroon loop, van klein na groot... Iets wat jy dan uit al daardie dinge kan leer, is dat God ALTYD vir jou daar was... Dat Hy jou bygestaan en gedra het, deur die klein en die groot dinge...
Hy was van altyd af nog daar, en Hy het jou nie in die verlede in die steek gelaat nie... Hoekom sal ons dan bekommerd wees oor die toekoms? As jy dalk so 'n benoudheid oor jou het, wat jy net nie afgeskud kry nie, bid weer... Kry iemand om saam met jou te bid... Daar waar 2 of meer in God se naam is, daar is Hy... As ons dan WEET dat God ALTYD daar was – SAL HY mos steeds daar wees in die toekoms... Mag hierdie jou vul met rustigheid vir die nuwe dag... Mag jy elke dag onthou JOU PA LEEF... HY sal jou nie in die steek laat nie, jou NOOIT verlaat nie... En Sy genade vir jou is onmeetbaar...
Blessings!
anelli**
Die gedagteki vir die daggie sal ongelukkig nie Vrydag verskyn nie, vanwee die feit dat ek geen internet toegang gaan he nie. Ek bid dat julle 'n geseende week verder en naweek sal he!

No comments: