Wednesday 18 April 2012

Ongelooflike getuienis en terugvoer van Paasprojek 2012

Hi julle awesome mense!

Hier is nou vanoggend 'n storie van HOOP vir ELKEEN van julle!  Soos julle weet, weens logistieke redes :), het my ma en Ronalda hierdie jaar beheer geneem van die Paasprojek.  My ma het vir ons terugvoer geskryf daaroor - en dis 'n ONGELOOFLIKE getuienis!!!  Het my hart diep aangeraak, so maak tyd om hierdie te lees...  Dit sal hoop bring vir jou wat dit nodig het!

Ek was bevoorreg genoeg om 1 plek te kon gaan uitdeel (was vir 'n baie vinnige week in SA) en ek sal more (Vrydag) terugvoer daaroor skryf, en fotos stuur.  Ek het nie veel ander fotos (behalwe die wat ek reeds gestuur het, ontvang nie).

blessings vir jou! :)

anelli**

Paaseierprojek  2012 

Anél het die eerste paaseierprojek vier jaar gelede geloods.  Aanvanklik was die gedagte om vir die Rooi Kruis Kinderhospitaal paaseiers in te samel en uit te deel.  Hiervoor het ons ongeveer 2000 paaseiers nodig gehad.  Die Here het die projek ongelooflik geseën, soos die vissies en die broodjies, het ons 12 keer meer gekry as wat ons nodig gehad het (24,000) sodat ons aan die einde van die projek baie meer instansies kon ondersteun. 

Hierdie projek het ‘n jaarlikse instelling geraak en het van krag tot krag gegaan.  Ons doelwit was om ‘n paaseierpakkie (3 eiers) aan minderbevoregtes, kinders in kinderhuise en bejaardes in tehuise uit te deel.  Die dankbaarheid van die mense wat dit ontvang het, het elke jaar diep aan ons harte geraak.

Verlede jaar is die projek nie geloods nie aangesien ek heel jaar chemo behandeling gekry het.  Toe Anél my aan die begin van Februarie vra of ek kans sien om die projek vanjaar te doen was my eerste  reaksie ja en na ek daaroor gedink het, nee.  Ek herstel nog na die chemo en het geweet wat die projek behels... Paaseiers optel, in pakkies verpak, lintjies knoop en versprei na die nodige instansies.  Jou rug voel later of dit breek, jou spiere raak in spasma en jou vingers se koordinasie wil later nie meer saamwerk nie.  Die spreekwoord die mens wik maar God beskik is hier so van toepassing dat dit eintlik ongelooflik is.  ‘n Vriendin van Anél, Ronalda, het in hierdie tyd vir haar gekontak en gevra of sy kan help met die paaseierprojek.  Ek het onmiddellik  gesê dat ek bereid is om te help as ek hulp kry.  So het ek en Ronalda oor ‘n teetjie gesels en beplan.  Anél het julle almal gekontak en die donasies het begin instroom. 

Die Here het die projek so gebless deur vir die eerste keer mense te stuur wat bereid was om as koordineerders op te tree; Hy het mense gestuur met baie paaseiers wat reeds in pakkies verpak was; Hy het mense gestuur met name van behoeftige kinderhuise, kleuterskole en nagskuilings.  Jeremia 29:11 was ons vers hierdie jaar :  “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here.  “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.  Julle sal na My roep en kom bid.  Ek sal na julle luister.  As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.”

In die tyd het ek gesien en beleef dat hoe meer ons God se wil doen, hoe groter die aanslag van satan (So baie dinge het erg verkeerd geloop en ons huis is beroof in die tyd). Ek en Ronalda het afsonderlik gewerk en net die getalle van wat ons ingesamel het aan mekaar gestuur. 

Gebeure wat vir my uitgestaan het tydens die projek:
·         Ons het begin met ‘n lys van  45 plekke wat gekontak moes word (wat eintlik ons verwagtinge oortref het!) en ons het geeindig met ‘n totaal van 60 plekke wat donasies kon kry. (God het soveel meer voorsien as wat ons kon dink!)
·         Ons het gefokus op kinderhuise en ouetehuise, maar God het toeriste daarby ingesluit.
·         Ons het vir kinderhuise paaseiers gegee en hul het vir gebed gevra (SOS Childrens Village, Thornton).
·         God het my nou vir die tweede keer genees en in remissie geplaas van leukemie en limfoom en so kon ek deel wees van die uitreik na Hospice waar mense wat terminaal siek is (kanker- en vigslyers) versorg word. 
·         Ek het ook besef dat ons in hierdie land van ons waar elkeen besig is met sy eie dinge en die meeste van ons ‘n goeie, beskermde lewe lei nie ‘n idee het hoe baie vigslyers daar is nie.  St. Luke’s Hospice in Claremont, wys niemand weg wat hulp nodig het nie, self al het jy nie fondse om te betaal nie.  Hul versorg tans 800 terminale pasiënte.  Hulle is ten volle afhanklik van donasies.
·         Elim Nagskuiling in Elsiesrivier se behoefte is so ongelooflik groot, maar hul dankbaarheid was groter, sodat trane gestort is oor ‘n pakkie van 3 paaseiers.  Die bestuurder het gesê – net die oggend voor ek haar gebel het, het iemand gevra wat hulle vir Paasfees gaan doen.  Sy moes antwoord – NIKS.  Want ons het nie die fondse nie, en ook geen Paaseiers…  En daardie selfde oggend bel ons om te sê dat ons vir elke inwoner ‘n pakkie het…
·         ‘n Plaaslike ouetehuis, langs ‘n kerk geleë, se bejaardes wou weet van watter kerk die paaseiers kom en ons kon sê dit kom van die Here af, wat jare gelede die idee vir Anél gegee het.
·         Vier jaar gelede het No Limits, ‘n program wat deur Badisa geloods is onder straatkinders 15 pakkies gevra.  Vanjaar kon ek 500 pakkies vir hulle gee, omdat die nood oor die afgelope vier jaar so ongelooflik groot geword het.
·         Hou Moed Youth and Comunity sentrum in Hermanus wat gestig is deur Theo de Meyer wat ongelooflike opheffingswerk doen in Zwehile.  Hiervan sal Anél julself meer vertel aangesien sy bevooreg was om hul pakkies self uit te deel - email volg Vrydag met fotos! :)

Wat ek geleer het uit vanjaar se projek:
God vra gewone mense soos ek en jy om net bereid te wees om vir Hom te werk. HY sorg self vir die res!  Dit help nie ons gaan Sondag op Sondag kerk toe en stap en ry verby daardie tehuis/versorgingsoord en besef nie daardie mense wat almal al vergeet het ook God se kinders is en  ook onvoorwaardelike liefde nodig het soos God vir ons gee.  God vra dat ek en jy sy hande en voete sal wees.  Dit is wat ons kinders van God maak.  Jesus het vir die verlorenes gekom, daardie een lammetjie wat afgedwaal het (die man/vrou in die nagskuiling) en Sy opdrag aan ons was Matteus 28: 19-20 “Gaan dan , maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.  Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet verseker : Ek is vir altyd by julle tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Baie dankie aan elkeen wat ‘n bydrae gemaak het, koordineerders, kontant, pakkies pak, pakkies uitdeel, name van instansies deurgee, gebed vir ons, van watter aard ookal.  God het ons ryklik geseën!

Ons het vanjaar 30 099 paaseiers ingesamel en kon vir 10 033 mense ‘n boodskap gee: 
God realy loves you / Jesus het jou lief!

Mag die Here met elkeen van ons almal wees en bly!

Rounell Hugo

No comments: