Thursday 25 August 2011

“God does not call the equip, He equips the called…”

Haloes! :)

Galasiërs 1:15

“God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in Sy genade geroep…”

Romeine 12:2

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe… Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is…”

“God moet soms diep ploeg om die beste oes uit ons lewensakker te verky… Wees gehoorsaam en soek sy wil in jou vreugde en beproewing…” ~ Toi

“God het aan jou gedink nog lank voordat jy ooit aan Hom gedink het. Sy doel vir jou lewe dateer al van voor jy verwek is… Hy het dit beplan nog voor jy bestaan het, en sonder jou insette!” ~ Rick Warren

God se wil vir jou lewe… Is dit vir jou ‘n duidelike prentjie? Of is dit iets wat jy ontdek soos die tyd aangaan? Ek glo dat met tydsverloop, kom antwoorde… Oom Angus Buchan is vir my ‘n absolute inspirasie!! Dis ‘n storie van hoop, en hy is vir my ‘n absolute beskrywing van aanhaling hierbo van Toi. Voordat hy vir Jesus geken het, het hy op homself staatgemaak om dinge gedoen te kry, maar nadat Hy vir Jesus as Sy saligmaker aanvaar het, het hy sy plaas en die boerdery oorgegee aan God en SY wil. Hy was ook gehoorsaam aan God se boodskap, nl dat hy die woord moet verkondig… God het ‘n gewone mens geneem, en aan hom die woorde gegee wat hy nodig het, om groot werk in Sy naam te doen…

Dink jy dat jy te gewoon is om ‘n verskil in die Koninkryk te maak? NES jy is, deur hoe jy mense hanteer, en met mense gesels, hoe jy tussen jou vriende is, en ook hoe jy optree as niemand kyk nie – dit is bediening opsigself! Jy hoef nie te preek om ‘n verskil te maak nie! Ek wil iets met jou deel wat my vandag diep aangeraak het toe ek baadjies gaan ingee het by die droogskoonmaker. Toe ek daar instap was daar net een vrou wat binne in die winkel was. Sy het my gegroet met haar mooiste glimlag, en ek kon hoor dat haar radio op ‘n gospel stasie ingestel was. Daar het ‘n liedjie gespeel in die agtergrond – “God is good, all the time…” Sy het heerlik saamgesing, terwyl sy my geld geneem het, en ‘n kwitansie uitgeskryf het. Toe die liedjie klaarmaak, en die laaste note so wegsterf, toe sê sy – “Not sometimes, He is good ALL the time!” Sy het my net weer herinner van hoe lief God ons het, en dat Hy elke oomblik van die dag daar is vir ons, lief is vir ons, en reg staan om ons te help, in watter manier ons Hom ookal mag nodig hê. Ons moet dit net onthou! Daardie vrou, is besig met ‘n bediening in die droogskoonmaker! Sonder dat sy vir my probeer preek het, het sy ‘n ligpunt in my dag gesit, en het sy my herinner dat ons NOOIT alleen is nie, en dat geen pad te lank is om te stap nie – want God sorg. Onthou dit vandag! En onthou, dat ons as gewone mense, God se koninkryk hier op aarde moet laat kom. Wees net bereid – God sal self sorg vir die res!

Blessings!

No comments: